Skakels Nuusbriewe Kontak Gasteboek Registreer Teken-in Tuisblad
  
Registreer hier om aan te sluit Teken in kontak my! kontak my! skakels van belang Lees huidige en vorige nuusbriewe Terug na Tuisblad Terug na Tuisblad
Swart bemagtiging in die landbou

Onderstaande twee berigte wat handel oor AgriSEB (AgriBEE) het in DIE BURGER verskyn:

Landbou-groepe: 35% in swart hande teen 2008

Só lyk doelwitte vir landboubemagtiging

AINSLEY MOOS

OOS-LONDEN. -- Me. Thoko Didiza, minister van landbou en grondsake, het gister hier 'n raamwerk vir bemagtiging in die landbou, bekend as Agri-SEB, bekend gemaak.

Die raamwerk vir swart ekonomiese bemagtiging in die landbou bevat doelwitte vir die verteenwoordiging van persone uit voorheen benadeelde gemeenskappe in die uitvoerende bestuur van ondernemings asook oor die eienaarskap van boerdery-ondernemings.

Dit lê ook sterk klem op die geletterdheid van plaasgemeenskappe.

Die raamwerk is nie die finale dokument wat riglyne vir bemagtiging vir die landbou verskaf nie. Didiza het gesê belanghebbendes sal weer in November vanjaar vergader om die finale dokument bekend te stel.

Die publiek word nou geleentheid gegee om kommentaar op die voorgestelde dokument te lewer.

Die handves stel voor dat bestaande en nuwe ondernemings 35% swart eienaarskap teen 2008 moet hê. Daarbenewens word voorgestel dat waar beleggings op die vasteland onderneem word, 10% van die belegging aan swart Suid-Afrikaners gaan.

Oor verkryging en verskaffing is die doelwit dat 50% van die totale waarde van alle verkryging teen 2010 van swart maatskappye moet kom. Teen 2014 moet dit 70% wees.

'n Voorstel in die raamwerk lui dat die landbousektor moet onderneem om 75% van die huidige ongeletterdheid onder plaasgemeenskappe teen 2008 uit te wis. Teen 2010 moet ongeletterdheid onder die gemeenskappe totaal uitgewis wees.

Daar word ook voorgestel dat alle werkers in die sekondêre en tersiêre vlak van die sektor teen 2010 funksioneel geletterd moet wees. In 'n ondersoek deur die Menseregtekommissie in Desember 2002 oor menseregtevergrype in plaasgemeenskappe het voorleggings aan die kommissie aan die lig gebring dat basiese opvoeding, asook die plaasskole van dié gemeenskappe, dikwels in die hande van die betrokke boer is.

Die voorstelle oor geletterdheid kan daartoe lei dat die landbou die eerste werklike sektor in die land se ekonomie word wat beduidende klem op breë bemagtiging deur die ontwikkeling enoordrag van basiese vaardighede lê. Geletterdheid is 'n basiese vereiste vir ekonomiese deelname.

Oor diensbillikheid stel die konsephandves voor dat alle ondernemings in die sektor onderneem om onder meer teen 2006 toe te sien dat 10% van die uitvoerende bestuur swart vroue is. Teen 2008 moet 25% van die senior bestuur swart vroue wees.

"Wat ons vandag hier gehoor het, dui daarop dat ons nog bitter min gedoen het," het Didiza gesê aan haar ge hoor, wat alle belangegroepe in die landbousektor verteenwoordig het.

Sy het gesê die raamwerk moet lei tot " sinvolle dialoog" sodat die boustene vir groei gedefinieer kan word. Volgens haar moet die uitwissing van ongeletterdheid hand aan hand met algemene menslike ontwikkeling loop.

Banke kan 'n belangrike rol speel om finansiering te verskaf aan ondernemings wat 'n bemagtigingsvennoot betrek en 'n deel van hul onderneming wil verkoop, het sy gesê.

Bemagtiging: Omstrede

Boere kwaad vir Didiza oor handves

Mikpunte in nuwe dokument 'kan boerdery onekonomies maak'

MARIETIE LOUW

PRETORIA. -- "Is me. Thoko Didiza die minister van landbou of die minister van ideologie?"

Só het 'n ontstoke boer gister op 'n landbouvergadering op Thabazimbi in Limpopo gereageer oor die nuwe handves vir swart ekonomiese bemagtiging in landbou (Agri SEB).

Volgens dié boer, wat anoniem wil bly, gaan die dokument die landbou heeltemal uit die ekonomiese speelveld van die land haal.

Mnr. Japie Grobler, president van Agri SA, het gesê 'n groot bron van kommer is dat die Agri SEBkonsepdokument verskil van die verslag waaroor landbou-organisasies en Didiza samesprekings gehou het.

Dr. Tobias Doyer, uitvoerende hoof van die Landboubesigheidskamer (LBK), het gesê die dokument wat bespreek is voordat die Agri SEB-konsepdokument bekendgestel is, voel soos twee verskillende dokumente.

Didiza het die konsepdokument verlede week in die Oos-Kaap bekendgestel. Voorstelle oor die dokument moet voor November ingedien word, wanneer die finale dokument bespreek sal word.

Luidens die konsepdokumentmoet bestaande en nuwe ondernemings in die landbou reeds teen 2008 35% swart eienaarskap hê. 'n Voorstel in die dokument is dat alle landbou-ondernemings 10% swart vroue as deel van die uitvoerende bestuur teen 2006 sal hê. Teen 2008 moet 25% van senior bestuur swart vroue wees.

Nóg 'n voorstel is dat 75% van ongeletterdheid onder plaasgemeenskappe teen 2008 uitgewis moet wees. Teen 2010 moet ongeletterdheid onder dié gemeenskappe totaal uitgewis wees.

Grobler het gesê in die onderhandelings in November sal die wesenlikheid daarvan om agri-ondernemings en die primêre landbou te integreer, bespreek moet word. Die vlak en haalbaarheid van grondhervormingsmikpunte asook bestuursdeelname-mikpunte sal bespreek moet word.

Mnr. Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, het gesê met Agri SEB gaan die landbou tot 'n stilstand kom.

Mnr. Werner Weber, woordvoerder van die VF+, het gister gesê die plan is onprakties en finansieel onuitvoerbaar.

Volgens hom moet die regering hom beywer om mense volhoubaar te bemagtig deur nuwe projekte saam met huidige boere van stapel te stuur.

Agri-Noordwes kla oor SEB

JOHANNESBURG. -- Die handves vir swart ekonomiese bemagtiging in landbou (Agri SEB) is niks anders as konstruktiewe onteiening van boere se grond nie.

Só het mnr. Pieter Meyer, president van Agri-Noordwes, gister in 'n verklaring gesê oor die regering se Agri SEB-dokument.

"Dit is ondeurdagte riglyne en dit misken die ekonomiese realiteite van die landbousektor en die breër ekonomie."

Volgens hom gaan Agri SEB landbou in Suid-Afrika vernietig indien dit toegepas word.

Me. Thoko Didiza, minister van landbou en grondsake, het twee weke gelede in Oos-Londen die Agri SEB-konsepdokument bekendgestel.

Hiervolgens moet bestaande en nuwe ondernemings in die landbou teen 2008 35% swart eienaarskap hê. 'n Voorstel in die dokument is dat alle landbou-ondernemings teen 2006 10% swart vroue as deel van die uitvoeren de bestuur sal hê. Teen 2008 moet 25% van senior bestuur swart vroue wees.

Voorts moet daar binne 'n jaar 'n program vir indiensneming en mentorskap wees vir 5 000 werklose swart gegradueerdes.

Meyer het gesê die dokument ondermyn vertroue in die regering se sogenaamde erns met landbou soos vervat in die sektorplan vir landbou.

"Agri-Noordwes kan nie aanvaar dat swart vennote op die boerderysektor afgedwing word nie."

Volgens Meyer moet swart bemagtiging aan groei en ontwikkeling in die landboubedryf gekoppel word en nie aan die herverdeling van rykdom nie.

Die dokument skep ook onnodige verwagtings by radikale groepe soos die Beweging vir Grondlose Mense (BGM).

"Dit gaan landelike veiligheid en goeie verhoudings met werkers baie nadelig beï nvloed." -(Marietie Louw)








SA bly struikel
RAPPORT,  5 SEPTEMBER 2004
Citius Altius Fortius

vinniger, hoër, sterker, maar . . .

SA BLY STRUIKEL

Athene 2004, SuidAfrika se vierde Olimpiese Spele sedert die einde van sportisolasie, is verby. Die Noksa-grootbaas Sam Ramsamy verklaar dat die Spele vir SuidAfrika "suksesvol" verloop het.   JOHAN VAN WYK , wat die Spele vir Rapport meegemaak het, stem nie noodwendig met dié uitspraak saam nie.

Wie se skuld is dit? Dit sou die maklikste uitweg wees om te sê die meeste van ons sportlui het die talent , maar nie die temperament vir die Groot Liga nie. Dit sou egter swak bestuur en leiding van die Olimpiese span, asook skrale insette van hoogs bekwame afrigters, bewese oudsportsterre en ander bystandspersoneellede soos sportwetenskaplikes en -sielkundiges verbloem.

Twaalf jaar gelede, in 1992 in Barcelona, het Charmaine Gale (Weavers) en Karen Kruger (Botha) as twee van Suid-Afrika se sterkste medalje-kandidate aangetree op die land se eerste Olimpiese Spele sedert die poorte van die internasionale sport-arena weer vir die land geopen is.

Hoogspringer Gale en verspringer Kruger het hulle immers met wêreldklas vertonings van onderskeidelik 2 m en 6, 85 m by die huis tussen wêreldatletiek se top-sterre bevind.

Sowel Gale as Kruger het egter in Barcelona dramaties in die eerste ronde uitgeval en kon nie naastenby hul beste vertonings by die huis ewenaar nie. Agterna was albei duidelik verslae en het hulle albei aan hierdie waarnemer gesê: "Ons was net lam in hierdie atmosfeer. Ons kon skaars ons bene optel."

In Augustus 2004 in Athene, twaalf jaar en drie Spele-byeenkomste later, herhaal presies hierdie toneel hom byna daagliks. Hande vol Suid-Afrikaanse sportlui, onder wie baie tussen die top-tien ter wêreld tel, kom druipstert en met die vrae duidelik op hul gesigte geëts uit die Olimpiese arenas gestrompel. Ons was lam, ons kon nie ons bene optel nie, kom dit by herhaling uit hul monde.

Dit nadat die Nasionale Olimpiese Komitee (Noksa) vooraf verseker het dat verreweg die grootste gros van vanjaar se 106 Suid-Afrikaanse spanlede gekies is "omdat hulle die vermoë en talent het om Olimpiese eindrondes te haal".

Van hierdie versekering het bloedweinig gekom. Hoewel Suid-Afrika in Athene ses medaljes gewen het -- een meer as in Sydney in 2000, is die kille feit dat net sestien Suid-Afrikaanse spanlede (15%) eindrondes in Athene gehaal het -- twaalf minder as in Sydney in 2000.

In die Olimpiese vlagskip, atletiek, het meer as 'n derde (13, of 40%) van die 32 Suid-Afrikaanse gekosenes in die eerste ronde uitgeval. Hieronder tel Top-10-wêreldranglysers soos Okkert Brits, Jacques Freitag, Janus Robberts, Llewellyn Herbert en Surita Febbraio.

Net elf Suid-Afrikaanse atlete het eindrondes gehaal, en hieronder tel vyf (drie marathonners, een stapper en een sewekamper) in wie se nommers nét eindrondes was.

. Dié soort kille statistieke gooi yskoue water op die Noksa-grootbaas Sam Ramsamy se euforiese opmerking dat Suid-Afrika se Sending Athene "suksesvol" was, bloot omdat die Sydney-medalje-oes met een vermeerder is.

Die feit is, Suid-Afrika se Athene-oes plaas hom 43ste op die medaljetabel.

Vierde in Afrika ná lande soos Ethiopië (28ste), Marokko (36ste), Kenia (41ste) . . . lande met veel minder finansiële, ekonomiese, tegnologiese, geestelike, mediese en ander inspuitings vir hul sportlui as wat met Suid-Afrika die geval is.

'n Mens is nie moedswillig as jy na die Suid-Afrikaanse vertonings in Athene kyk en die ou uitdrukking bo blink, onder stink in herinnering roep nie. Dis skokkend dat verreweg die meeste SuidAfrikaanse Olimpiese sportlui steeds, twaalf jaar ná Barcelona, hoegenaamd nie 100% gepantser was vir wat op hulle in Athene gewag het nie.

Wie se skuld is dit? Dit sou die maklikste uitweg wees om te sê die meeste van ons sportlui het die talent , maar nie die temperament in die Groot Liga nie. Dit sou egter swak bestuur en leiding van die Olimpiese span, asook skrale insette van hoogs bekwame afrigters, bewese oudsportsterre en ander bystandspersoneellede soos sportwetenskaplikes en -sielkundiges verbloem.

'n Mens kan redeneer totdat jy potblou in die gesig is, maar die feit is dat SuidAfrika in die jaar 2004 van onse Heer steeds die meeste van ons Olimpiese sportlui ongepantser na liggaam en na gees na 'n Olimpiese Spele stuur; hulle in die diep kant van 'n wrede, professionele sportwêreld insmyt, en dan verwag dat hulle kop bo water hou.

Solank die bestuur van 'n Suid-Afrikaanse Olimpiese sportspan in die hande van talle onbekwame maar tog so politiek korrekte ghoeroes lê, só lank sal Suid-Afrika op die Olimpiese toneel net 'n spikkeltjie uit die suidpunt van Afrika bly.

Die tragiese toneel van 'n andersins talentvolle 4x400-mansaflosspan wat weens feitlik geen gesamentlike oefengeleenthede sedert Sydney 2000 nie 'n absoluut elementêre fout begaan -- soos om 'n aflosstokkie verkeerd vas te hou en te verloor -- is 'n aanklag teen wat ons so graag ons "professionalisme" noem.

'n Ander was die skokkende taktiek van ons drie marathon-manne, wat hulle in die eerste gedeelte van die wedloop disnis op die voorpunt gehardloop het, net om daarna heeltemal uit die bus te val toe die strawwe deel van die wedloop, vol energie-tappende opdraandes, aanbreek. Wie het vooraf vir hulle sulke absoluut naï ewe raad gegee? Het daardie persoon of persone nie vooraf die roete bestudeer soos die res van die wêreld gedoen het nie?

. Nog 'n mooiklinkende Noksa-versekering wat bloedneus in Athene gekry het, is die een wat vir die soveelste keer voor 'n Spele uitgebasuin is dat "net sportlui wat 100% fiks en gesond is aan die Spele sal deelneem". Geen sportman of -vrou sal, ondanks beserings en/of pleinweg swak vorm, die kans laat verbygaan om aan 'n Spele -- baiekeer 'n eenkeer-in-'n-leeftyd-geleentheid -- deel te neem nie deur hulle te onttrek as hulle weet hulle sal nie hul beste kan gee nie.

Tog is dit geen geheim nie dat minstens 'n hand vol van ons gekosenes verreweg nie naby hul beste na liggaam en na gees was toe hulle in Athene aangetree het nie. Die Suid-Afrikaanse Olimpiese sportbestuur was vir seker ook hiervan bewus, en tog is hierdie beseerdes toegelaat om deel te neem, meestal met voorspelbare tragiese gevolge.

Niemand sal in die toekoms mooiklinkende vereistes vir Olimpiese deelname ernstig kan opneem terwyl ons bestuurspan maar Gods water oor Gods akker laat loop en naï ef maar hoop op die beste nie.

. Ramsamy het by die Suid-Afrikaanse span se tuiskoms verkondig dat "meriete" voortaan die enigste maatstaf behoort te wees vir die samestelling van toekomstige Suid-Afrikaanse Olimpiese spanne.

Dit nou uit die mond van dieselfde man wat vooraf hardop gekla het dat die 2004span "nie die Suid-Afrikaanse rasse-geografie verteenwoordig nie". Hy wil egter tot vandag toe nie sê wat die "rasse-samestelling" van die Athene-span was nie. Dalk is hy bang om dit aan die groot klok te hang, al is dit pynlik dat ons in 2004 steeds na Suid-Afrikaanse internasionale spanne op grond van "rasse-samestelling", en nie meriete alleen nie, kyk. Die feit is dat die span uit 75% "wittes" en 25% "voorheen agtergeblewenes" (lees: nie-wit) bestaan het. Dié statistieke kan uit twee hoeke beoordeel word.

Eerstens is dit 'n yslike aanklag teen Suid-Afrikaanse sportbase dat, ondanks twaalf jaar ná sport-eenheid en miljoene der miljoene rande se aansporingsgeld aan "voorheen agtergeblewenes", steeds net 'n kwart van die land se bevolking só ver gevorder het dat hulle in 'n Olimpiese span plek kan kry.

Andersins kan 'n mens natuurlik redeneer dat die samestelling van 'n SuidAfrikaanse Olimpiese span, met sy vele verskillende sportlui in vele verskillende sportdissiplines, nooit rêrig "geografies korrek " kan wees nie. Die grote Amerika aanvaar al donkiejare dat sekere mense in sekere dissiplines uitblink en dat andere dit in ander dissiplines doen.

As Amerika 'n "geografies korrekte" span sou moes kies, sou hy vir seker nie soos tans 'n baan- en veldatletiekspan Spele toe gestuur het wat seker goed 70% "swart" is nie. Dieselfde geld 'n land soos Frankryk, waar 'n "wit" gesig in sy atletiek-aflosspanne 'n rariteit is.

. En dan is daar natuurlik die kwessie van geld, of, in Suid-Afrika se geval, 'n gebrek aan geld.

Wanneer 'n nasionale sportbeheerliggaam soos Swem SA trots verkondig dat hy Roland Schoeman en Ryk Neethling "sedert April vanjaar" met sowat R50 000 elk gehelp het, wonder 'n mens of onse mense nou rêrig weet hoeveel ander lande in húl sportlui belê.

Daardie sowat R50 000 kom neer op skaars $7 000. As ons mense dink dis die soort kleingeld waarmee ons top-sterre tevrede moet wees en waarmee hulle gepantser 'n Spele kan binnegaan, leef ons in 'n droomwêreld.

Ons sportbase sal vir my kwaad wees, maar dan moet hulle dit nou maar wees. Solank ons egter in ons droomwêreld wil voortleef en nie die realiteite van 'n wrede professionele sportwêreld wil insien nie, sal hierdie waarnemer bly glo dat ons top-sterre darem nog so af en toe presteer, nie danksy ons sportbase nie, maar ondanks hulle.




"Help bou aan die nuwe SA"

Lesersbrief  -  Die Burger, 18 Augustus 2004

Help bou aan die nuwe SA

DIE debat oor die verdwyning van die NNP en die "verraad" van Marthinus van Schalkwyk teenoor sy kiesers laat talle vrae ontstaan oor die gevoel van patriotisme onder sekere Afrikaners.

In 1994 het die NP 20% van die stemme op hom verenig. Dit het die eens magtige NP in die rol geplaas van 'n opposisieparty, en die leiers het onder leiding van F.W. de Klerk gesukkel om dié nuwe rol te vertolk. Die NP-ondersteuners het ook probleme ondervind aangesien hul party nie meer dieselfde invloed gehad het om die sake van die dag te bepaal nie. Toe verwerp hulle die NNP in die daaropvolgende verkiesing by die stembus.

Tony Leon van die DP word toe die nuwe opposisieleier, en die NNP moes hom herposisioneer in die nuwe politieke landskap. Onder die leierskap van Van Schalkwyk het die NNP gesoek na koalisies, wat rampspoedig afgeskop het met die DA, en uitgeloop het op 'n koalisie met die ANC. Die afgelope verkiesing het die DA op die verkiesingsplakkate gesê dat die NNP en die ANC saam is. Die NNP het weer nie goed by die stembus gevaar nie.

Die vraag is dus: Hoe kan daar gesê word dat die NNP en Van Schalkwyk "verraaiers" is as die meeste Afrikaners hom nie in die afgelope verkiesing gesteun het nie? Die waarheid is dat Suid-Afrika ná 1994 drasties verander het. Die land word deur 'n regering van die meerderheid geregeer. Selfs minderhede is nou vry.

Ons onthou hoe sommige mense uit vrees vir wat ná 27 April 1994 sou gebeur, voorsorgmaatreëls getref het met onder meer die oppotting van kos. Van al hierdie vrese het niks gekom nie. En ons ekonomie onder die ANC is gesond, rentekoerse is die laagste in 20 jaar en paaiemente op verbande en motors is baie goedkoper as voor 1994. Daar word gewerk om die lewensgehalte van Suid-Afrikaners te verbeter.

Kom, laat ons ophou om in die droomwêreld van die ou Suid-Afrika te leef en laat ons erken dat Suid-Afrika onomkeerbaar verander het. Van Schalkwyk en die NNP het dié werklikheid aanvaar. Die tyd het aangebreek dat ander Afrikaners dit ook moet doen.

Gun Marthinus en ander Afrikaners die vryheid om by die ANC aan te sluit. Daar is Afrikaners soos Johnny de Lange, Willie Hofmeyr, Carl Niehaus, Melanie Verwoerd, ensovoorts wat lank voor Van Schalkwyk die ANC hul tuiste gemaak het en wat nog nooit die ideale van 'n demokratiese Suid-Afrika verraai het nie. Hulle lewer 'n trotse bydrae tot die nuwe Suid-Afrika in belang van alle Suid-Afrikaners. Kom, wees patrioties en help bou aan 'n nuwe Suid-Afrika.
JOHN SCHUURMAN
Ceres






 






 






 





Warning: mysql_connect() [function.mysql-connect]: Access denied for user 'niewie'@'localhost' (using password: YES) in /home/sanuus/public_html/counter.php on line 182