SA bly struikel
RAPPORT, 5 SEPTEMBER 2004
Citius Altius Fortius
vinniger, hoër, sterker, maar . . .
SA BLY STRUIKEL
Athene 2004, SuidAfrika se vierde Olimpiese Spele sedert die einde van sportisolasie, is verby. Die Noksa-grootbaas Sam Ramsamy verklaar dat die Spele vir SuidAfrika "suksesvol" verloop het. JOHAN VAN WYK , wat die Spele vir Rapport meegemaak het, stem nie noodwendig met dié uitspraak saam nie.
Wie se skuld is dit? Dit sou die maklikste uitweg wees om te sê die meeste van ons sportlui het die talent , maar nie die temperament vir die Groot Liga nie. Dit sou egter swak bestuur en leiding van die Olimpiese span, asook skrale insette van hoogs bekwame afrigters, bewese oudsportsterre en ander bystandspersoneellede soos sportwetenskaplikes en -sielkundiges verbloem.
Twaalf jaar gelede, in 1992 in Barcelona, het Charmaine Gale (Weavers) en Karen Kruger (Botha) as twee van Suid-Afrika se sterkste medalje-kandidate aangetree op die land se eerste Olimpiese Spele sedert die poorte van die internasionale sport-arena weer vir die land geopen is.
Hoogspringer Gale en verspringer Kruger het hulle immers met wêreldklas vertonings van onderskeidelik 2 m en 6, 85 m by die huis tussen wêreldatletiek se top-sterre bevind.
Sowel Gale as Kruger het egter in Barcelona dramaties in die eerste ronde uitgeval en kon nie naastenby hul beste vertonings by die huis ewenaar nie. Agterna was albei duidelik verslae en het hulle albei aan hierdie waarnemer gesê: "Ons was net lam in hierdie atmosfeer. Ons kon skaars ons bene optel."
In Augustus 2004 in Athene, twaalf jaar en drie Spele-byeenkomste later, herhaal presies hierdie toneel hom byna daagliks. Hande vol Suid-Afrikaanse sportlui, onder wie baie tussen die top-tien ter wêreld tel, kom druipstert en met die vrae duidelik op hul gesigte geëts uit die Olimpiese arenas gestrompel. Ons was lam, ons kon nie ons bene optel nie, kom dit by herhaling uit hul monde.
Dit nadat die Nasionale Olimpiese Komitee (Noksa) vooraf verseker het dat verreweg die grootste gros van vanjaar se 106 Suid-Afrikaanse spanlede gekies is "omdat hulle die vermoë en talent het om Olimpiese eindrondes te haal".
Van hierdie versekering het bloedweinig gekom. Hoewel Suid-Afrika in Athene ses medaljes gewen het -- een meer as in Sydney in 2000, is die kille feit dat net sestien Suid-Afrikaanse spanlede (15%) eindrondes in Athene gehaal het -- twaalf minder as in Sydney in 2000.
In die Olimpiese vlagskip, atletiek, het meer as 'n derde (13, of 40%) van die 32 Suid-Afrikaanse gekosenes in die eerste ronde uitgeval. Hieronder tel Top-10-wêreldranglysers soos Okkert Brits, Jacques Freitag, Janus Robberts, Llewellyn Herbert en Surita Febbraio.
Net elf Suid-Afrikaanse atlete het eindrondes gehaal, en hieronder tel vyf (drie marathonners, een stapper en een sewekamper) in wie se nommers nét eindrondes was.
. Dié soort kille statistieke gooi yskoue water op die Noksa-grootbaas Sam Ramsamy se euforiese opmerking dat Suid-Afrika se Sending Athene "suksesvol" was, bloot omdat die Sydney-medalje-oes met een vermeerder is.
Die feit is, Suid-Afrika se Athene-oes plaas hom 43ste op die medaljetabel.
Vierde in Afrika ná lande soos Ethiopië (28ste), Marokko (36ste), Kenia (41ste) . . . lande met veel minder finansiële, ekonomiese, tegnologiese, geestelike, mediese en ander inspuitings vir hul sportlui as wat met Suid-Afrika die geval is.
'n Mens is nie moedswillig as jy na die Suid-Afrikaanse vertonings in Athene kyk en die ou uitdrukking bo blink, onder stink in herinnering roep nie. Dis skokkend dat verreweg die meeste SuidAfrikaanse Olimpiese sportlui steeds, twaalf jaar ná Barcelona, hoegenaamd nie 100% gepantser was vir wat op hulle in Athene gewag het nie.
Wie se skuld is dit? Dit sou die maklikste uitweg wees om te sê die meeste van ons sportlui het die talent , maar nie die temperament in die Groot Liga nie. Dit sou egter swak bestuur en leiding van die Olimpiese span, asook skrale insette van hoogs bekwame afrigters, bewese oudsportsterre en ander bystandspersoneellede soos sportwetenskaplikes en -sielkundiges verbloem.
'n Mens kan redeneer totdat jy potblou in die gesig is, maar die feit is dat SuidAfrika in die jaar 2004 van onse Heer steeds die meeste van ons Olimpiese sportlui ongepantser na liggaam en na gees na 'n Olimpiese Spele stuur; hulle in die diep kant van 'n wrede, professionele sportwêreld insmyt, en dan verwag dat hulle kop bo water hou.
Solank die bestuur van 'n Suid-Afrikaanse Olimpiese sportspan in die hande van talle onbekwame maar tog so politiek korrekte ghoeroes lê, só lank sal Suid-Afrika op die Olimpiese toneel net 'n spikkeltjie uit die suidpunt van Afrika bly.
Die tragiese toneel van 'n andersins talentvolle 4x400-mansaflosspan wat weens feitlik geen gesamentlike oefengeleenthede sedert Sydney 2000 nie 'n absoluut elementêre fout begaan -- soos om 'n aflosstokkie verkeerd vas te hou en te verloor -- is 'n aanklag teen wat ons so graag ons "professionalisme" noem.
'n Ander was die skokkende taktiek van ons drie marathon-manne, wat hulle in die eerste gedeelte van die wedloop disnis op die voorpunt gehardloop het, net om daarna heeltemal uit die bus te val toe die strawwe deel van die wedloop, vol energie-tappende opdraandes, aanbreek. Wie het vooraf vir hulle sulke absoluut naï ewe raad gegee? Het daardie persoon of persone nie vooraf die roete bestudeer soos die res van die wêreld gedoen het nie?
. Nog 'n mooiklinkende Noksa-versekering wat bloedneus in Athene gekry het, is die een wat vir die soveelste keer voor 'n Spele uitgebasuin is dat "net sportlui wat 100% fiks en gesond is aan die Spele sal deelneem". Geen sportman of -vrou sal, ondanks beserings en/of pleinweg swak vorm, die kans laat verbygaan om aan 'n Spele -- baiekeer 'n eenkeer-in-'n-leeftyd-geleentheid -- deel te neem nie deur hulle te onttrek as hulle weet hulle sal nie hul beste kan gee nie.
Tog is dit geen geheim nie dat minstens 'n hand vol van ons gekosenes verreweg nie naby hul beste na liggaam en na gees was toe hulle in Athene aangetree het nie. Die Suid-Afrikaanse Olimpiese sportbestuur was vir seker ook hiervan bewus, en tog is hierdie beseerdes toegelaat om deel te neem, meestal met voorspelbare tragiese gevolge.
Niemand sal in die toekoms mooiklinkende vereistes vir Olimpiese deelname ernstig kan opneem terwyl ons bestuurspan maar Gods water oor Gods akker laat loop en naï ef maar hoop op die beste nie.
. Ramsamy het by die Suid-Afrikaanse span se tuiskoms verkondig dat "meriete" voortaan die enigste maatstaf behoort te wees vir die samestelling van toekomstige Suid-Afrikaanse Olimpiese spanne.
Dit nou uit die mond van dieselfde man wat vooraf hardop gekla het dat die 2004span "nie die Suid-Afrikaanse rasse-geografie verteenwoordig nie". Hy wil egter tot vandag toe nie sê wat die "rasse-samestelling" van die Athene-span was nie. Dalk is hy bang om dit aan die groot klok te hang, al is dit pynlik dat ons in 2004 steeds na Suid-Afrikaanse internasionale spanne op grond van "rasse-samestelling", en nie meriete alleen nie, kyk. Die feit is dat die span uit 75% "wittes" en 25% "voorheen agtergeblewenes" (lees: nie-wit) bestaan het. Dié statistieke kan uit twee hoeke beoordeel word.
Eerstens is dit 'n yslike aanklag teen Suid-Afrikaanse sportbase dat, ondanks twaalf jaar ná sport-eenheid en miljoene der miljoene rande se aansporingsgeld aan "voorheen agtergeblewenes", steeds net 'n kwart van die land se bevolking só ver gevorder het dat hulle in 'n Olimpiese span plek kan kry.
Andersins kan 'n mens natuurlik redeneer dat die samestelling van 'n SuidAfrikaanse Olimpiese span, met sy vele verskillende sportlui in vele verskillende sportdissiplines, nooit rêrig "geografies korrek " kan wees nie. Die grote Amerika aanvaar al donkiejare dat sekere mense in sekere dissiplines uitblink en dat andere dit in ander dissiplines doen.
As Amerika 'n "geografies korrekte" span sou moes kies, sou hy vir seker nie soos tans 'n baan- en veldatletiekspan Spele toe gestuur het wat seker goed 70% "swart" is nie. Dieselfde geld 'n land soos Frankryk, waar 'n "wit" gesig in sy atletiek-aflosspanne 'n rariteit is.
. En dan is daar natuurlik die kwessie van geld, of, in Suid-Afrika se geval, 'n gebrek aan geld.
Wanneer 'n nasionale sportbeheerliggaam soos Swem SA trots verkondig dat hy Roland Schoeman en Ryk Neethling "sedert April vanjaar" met sowat R50 000 elk gehelp het, wonder 'n mens of onse mense nou rêrig weet hoeveel ander lande in húl sportlui belê.
Daardie sowat R50 000 kom neer op skaars $7 000. As ons mense dink dis die soort kleingeld waarmee ons top-sterre tevrede moet wees en waarmee hulle gepantser 'n Spele kan binnegaan, leef ons in 'n droomwêreld.
Ons sportbase sal vir my kwaad wees, maar dan moet hulle dit nou maar wees. Solank ons egter in ons droomwêreld wil voortleef en nie die realiteite van 'n wrede professionele sportwêreld wil insien nie, sal hierdie waarnemer bly glo dat ons top-sterre darem nog so af en toe presteer, nie danksy ons sportbase nie, maar ondanks hulle.